Monday, 14 October 2019

13 Oktober 2019, Koninkrykstyd 18


Psalm 66:1-10; 13-17


Psalm 66 het ’n interessante geskiedenis. Oorspronklik was dit bedoel as ’n lofliturgie in die erediens van Israel. Met ander woorde: as deel van hulle geloofstradisie het hulle hierdie psalm dikwels in hulle eredienste gelees … en dit dan as’t ware beleef.

Want anders as ons vandag, wat wanneer ons ’n storie vertel oor iets wat lank terug gebeur het, dit vertel op ’n wyse wat bevestig dat dit lank terug gebeur het, het die ou Israeliete in hulle eredienste hierdie geskiedenisverhale as’t ware “weer laat gebeur”. Hulle het hierdie ou verhale vertel, maar nie net vertel nie, ook gevier – asof dit op daardie oomblik in hul midde weer ’n keer aan die gebeur is.


Op hierdie manier het die Here se getrouheid vir hulle altyd “lewe” gehad. God se goedheid en trou aan hulle, al was dit ook deel van hul geskiedenis, het nooit vir hulle ou nuus geword nie.

Elke keer wanneer hulle die Here se liefde, deernis en ontferming van die verlede onthou het, al was dit hoe lank terug, het dit hulle lewens ook in die hede weer met vreugde, blydskap en dankbaarheid ingekleur. Dit was ’n ongelooflike geloofsperspektief.

Selfs ook wanneer hulle bly was, wanneer hulle in die hede nog ‘n keer die goedheid van die Here beleef het, het hulle graag ook die geskiedenis van sy goedheid onthou … en dan was die dankbaarheid eintlik dubbel soveel.


Hierdie tradisie, om die goedheid van die Here uit die verlede te onthou en dit in die hede te vier, was vir die Jode ’n belangrike bron van troos in daardie tye wat dit met hulle nie goed gegaan het nie.

Wanneer dit met hulle sleg gegaan het, wanneer hulle ontsteld of bedruk was, of verslae, het hulle hulself verplig om die Here se goedheid in die verlede te onthou. Dan was dit vir hulle ’n heerlike troos te midde van die seer of die ontsteltenis waarmee hulle in die hede geworstel het.

Uit die verlede is hulle geïnspireer om in die hede moed te hou. Om te onthou dat die Here getrou is, was dus Israel geloofsversterkende reddingsboei. Om dit egter nie net te onthou nie, maar ook daadwerklik te vier (al is dit dinge wat jare gelede gebeur het), het hul totale ingesteldheid en uitkyk op hul omstandighede verander.

Dit het moedeloosheid in hoop omgedraai. Dit het fronse in glimlagte laat oorgaan. Dit het beswaarde harte weer van blydskap laat sing. Nie omdat daar noodwendig nóú, in die hede, iets gebeur het nie, maar omdat die Here nog altyd getrou was.


Jare later, toe die Nuwe Testament se gelowiges oor hierdie psalm nagedink het, het hulle vanuit hulle eie situasie en behoeftes daarna gekyk en ook groot troos daaruit gehaal.

Só word Psalm 66 byvoorbeeld in 1 Petrus 1:6-7 aangehaal om gelowiges te bemoedig terwyl hulle wonder hoekom dit met hulle so swaar gaan; en hoekom die wederkoms van Jesus se lank neem om te gebeur.


Ons weet: dit gaan nie altyd goed met gelowiges nie. Hartseer, swaarkry en teleurstelling is ook in gelowiges se lewens ’n werklikheid. Wanneer gelowiges swaarkry, worstel om kop bo water te hou, is dit egter nooit hooploos of uitsigloos nie.

God gebruik soms die omstandighede van die lewe om sy kinders te louter en te beproef (maar sonder dat hulle in die proses struikel en val). Hy lei hulle egter weer daaruit, na beter wysheid, na groter kennis, na ’n dieper geloof en ’n stewiger verbintenis met Hom.


Ken jy die uitdrukking: “om in die doldrums te wees?” Hierdie spreekwoord dateer uit die tyd toe mense met seilskepe tussen Europa en Afrika, en ook Europa en Amerika, gereis het. ’n Seilskip kan nie sonder wind vaar nie.

Wanneer die wind nie waai nie, is die skip onbeweegbaar in die water. En só, het die ou skeepvaarders maar al te goed geweet, is daar ’n spesifieke deel van die aarde waar die wind dikwels nie waai nie, die sogenaamde Doldrums.

Dit is eintlik ’n “band” wat reg rondom die aarde strek, met sy grense vyf grade noord van die ewenaar en 5 grade suid van die ewenaar. Skeepskapteine het hierdie gebiede gevrees, want ’n skip kon vir dae, selfs weke (as hulle dit sleg vang) dáár windloos ronddryf. Soms het skepe se water opgeraak. Partykeer het mense kranksinnig geword, ook van dors.


Later het die woord “doldrums” ’n verdere betekenis gekry, om situasies te beskryf waar dit met iemand nie goed gaan nie. Dikwels is dit situasies waar ’n mens magteloos voel om selfs iets te kan doen. Daar is nie wind in jou seile nie. Jy dobber rond, sonder dat jy veel daaraan kan doen. Dit maak jou bedruk, negatief en depressief.


Ons dorp en gemeenskap is op die oomblik soortvan in die doldrums, vertel mense my. Dit gaan nie goed met die ekonomie van ons area nie. Besigheid het skielik opgedroog.

Party mense sien dit as aaklige uitvloeisel van die vernietigende stakings en onluste gedurende die wintermaande. Ander reken dat die voortslepende droogte ook ’n rol speel.

Wanneer ’n dorp se ekonomie swaar kry, raak dit die hele gemeenskap. Geld knyp. Bekommernis styg. Spanning bloei.


Miskien is dit juis nou ’n goeie tyd om by die antieke Israeliete iets te leer. Kom ons leer by hulle om hier in die doldrums ’n genesende geloofsaktiwiteit te beoefen. ’n Doelbewuste geloofsritme van om te onthou.

Onthou hier in die hede die Here se getrouheid in die verlede. Maar moet dit nie net onthou nie, vier dit ook. Want wanneer ’n mens dit vier asof dit so pas weer gebeur het, verander dit jou lewensuitkyk. Dan onthou ’n mens – maar behalwe vir onthou, beleef jy ook weer – dat die Here sy hand oor ons oop het.

Ons is veilig by Hom. Hy begelei ons deur die storms van die lewe. Hy begelei ons deur die droogte; deur die ekonomiese insinkheid; deur watter worsteling daar ook al mag wees en wat ons laat voel of daar geen wind in ons seile is nie. Die Here is getrou.

* * *

Chris du Preez
Selfoon: 082 551 1685
Epos op selfoon: chris2dupreez@icloud.com

Tuesday, 8 October 2019

6 Oktober 2019, Koninkrykstyd 17


Klaagliedere 3:19-26


Elke oomblik van die dag word ’n mens se brein met data en inligting gebombardeer. Dit is natuurlik meer as wat ’n mens se brein op een slag kan verwerk. Omdat die drang om te oorleef so sterk in ons geprogrammeer is, het ons breine só ontwikkel dat al die data wat deur ons oë ingesamel word, sowel as die data wat deur ons ore gehoor word, dadelik gevoer word na ’n gedeelte van die temporale lob van ons breine, die amigdala, om daar gesorteer te word.


Eintlik is die amigdala twee amandelvormige nodes, een in die linker en een in die regterlob van die brein. Die amigdala is ons waarskuwingstelsel. Dit blaai deur al die oudiovisuele inligting wat deur die oë en ore ingesamel word, op die uitkyk vir enige vorm van gevaar.

En die oomblik wanneer die amigdala iets bedreigends waarneem, sneller dit ’n reaksie in die res van die brein en die liggaam. In die nag byvoorbeeld, sal jy ’n geruisel hoor. Dadelik sal die amigdala geaktiveer word – en waarskynlik by jou ’n gevoel van bedreiging wakker maak. Dit dan totdat die res van die brein inskop en in staat is om te onderskei dat dit eintlik maar net die wind se ruisel in die blare van ’n boom was.


Interessante navorsing wat deur verskeie universiteite gedoen is, beweer dat ons amigdala ons in ons moderne lewens verlei om dadelik op die negatiewe te fokus. Veral rondom nuus en sosiale media, is bevind dat ons amigdala geneig om uit ’n duisend stories dadelik op die enkele een wat negatief is, te fokus.

En tog het die oorgrote meerderheid van die persone wat aan die eksperimente deelgeneem het, met groot erns verklaar dat hulle baie eerder goeie nuus as slegte nuus wil hoor. Ons kry dit egter reg, danksy ons amigdala, om al die goeie of neutrale nuus ondergeskik te maak aan daardie onmiddellike stresreaksie op die enkele slegte storie wat ons oë of ore opgetel het.

Natuurlik is hierdie inligting nie geheim nie. Nuusskrywers weet dit. Daarom dat bykans 90% van alle nuus waarmee ons bedien word, ’n negatiewe karakter het. Want slegte nuus trek ons aandag … en verkoop advertensies.


Asof dit nie al sleg genoeg is nie, sit die mens met ’n verdere probleem. Die meeste van ons het ’n kognitiewe vooroordeel (cognitive bias), sê wetenskaplikes. Ons het ’n geneigdheid om op die negatiewe te fokus en daaroor te tob. En, soos die Engelse sê: “to add insult to injury” het ons ook ’n tweede kognitiewe vooroordeel, wat bekend staan as die geneigdheid om maklik bevestiging vir bestaande oortuigings te vind.

Met ander woorde: as my geneigdheid in elk geval is om die negatiewe baie eerder as die positiewe raak te sien, veroorsaak my geneigdheid om bevestiging vir bestaande idees en menings te vind, dat ek die heel tyd sogenaamde “bewyse” vir my negatiewe uitkyk vind. Siestog, die arme mens.


Maar ek sal oneerlik wees indien ek wil voorgee asof alles eintlik baie beter daaraan toe is as wat ons dink, of as wat die media ons wysmaak. Dit gaan nie goed met die wêreld nie. Die mens is besig om die aarde te vernietig. Sonder om die modewoorde van ons tyd, soos aardverwarming, eers te gebruik, is dit doodgewoon ’n feit dat die mens die skepping grootliks skade aandoen.

Daar is boonop ’n groeiende onverdraagsaamheid tussen mense – en dit is ’n wêreldwye tendens. Die mens is ongelooflik selfsugtig is die enkele ingesteldheid van die mens wat die onderbou vorm vir al die korrupsie, bedrog en geweld wat die nuus volmaak. Dit is ’n stukkende wêreld waarin ons leef.


Vanuit ’n geloofsperspektief is ons sowel geskok oor wat alles op hierdie aardbol gebeur, maar ook in ’n sin reeds daarop voorberei. Die Here se Woord sê dat die wêreld al slegter en slegter sal word soos wat die mens al verder en verder van God af weg beweeg. Dit is ’n onkeerbare proses, omdat die mense onkeerbaar in sy wegbeweeg van God af is.


Al weet ons dit, bevind ons onsself soms ook maar in ’n situasie of op ’n plek in ons gedagtes waar ons soos die skrywer van Klaagliedere begin wonder of dit enigsins nog die moeite werd is om te leef. En of daar enigsins nog ’n kans op hoop is.


Vir die Klaagliedskrywer het hierdie oomblik in die jare na 586 voor Christus gebeur. Die Here se volk, Israel, het alles verloor. Koning Nebukadneser van die Babiloniërs het Jerusalem oorwin. Die tempel is afgebreek, die koning en sy paleis is in kettings en boeie na Babilon weggevoer.

Vir die skrywer en volksgenote het dit gevoel asof daar nie meer een enkele tasbare bewys oor is dat God goed is nie. Of dat Hy nog hulle Here is nie. Dit is waaroor Klaagliedere 3 gaan: iemand wat oor en aan die Here begin twyfel het. Iemand wat huil en kla (en selfs ’n bietjie verbitterd is) en sê dat Here teenoor hom verander het.

Die eerste sewentien verse van hierdie hoofstuk vertel dit oor en oor: die Here het verander; God het sy woord gebreek; God het teen sy volk gedraai. Uiteindelik kom die skrywer in die agtiende vers tot die slotsom: alles is verby, alles is verlore, daar is nie eers meer hoop nie.

Kyk hy rondom hom sien hy net donkerte. Kyk hy vorentoe sien hy ook net duisternis. Hy verstaan die Here nie. Net om oor hierdie dinge te dink is al vir hom te erg: dit laat sy gedagtes vasdraai.


Soms voel ons ook so. Ons raak ook soms vasgekeer in ons gedagtes oor die lewe, oor die wêreld rondom ons, oor die chaos, die korrupsie, die geweld, die leuens en die selfsug. En ons sukkel verdiep wanneer ons oor die Here begin dink, met vrae oor hoekom Hy dit nie kan omkeer nie. Of ten minste kan keer dat dit nie nog verder agteruitgaan nie.

Wanneer onskuldige mense ly, wanneer geliefdes vermoor word, wanneer mense se lewens omvergewerp word deur die lelike dinge wat ander doen, worstel ons met die Here. Waar is sy goedheid dan? Het Hy teenoor ons verander? Is die donker dan magtiger as die Lig? Ons en ons amigdala sien verskriklike bedreiging raak … en dan blameer ons vir God ook. En ons begin dink: daar is nie meer hoop nie.


Genadiglik het die skrywer van Klaagliedere 3 op ’n stadium ’n helder oomblik beleef. Net toe hy gereed was om alle hoop te laat vaar, net toe toe hy niks meer positief in die hede of die toekoms kon sien nie, kon hy vir ’n oomblik terug na die verlede kyk. En kon hy onthou van hoe die Here in die verlede was.

Hy kon God se trou onthou. En hy kon besef: dat ek hoegenaamd nog leef en nie ook totaal en al uitgewis is nie, dit wys dat God se medelye nog nooit opgehou het nie. Elke oggend kom die son nog op: ’n bewys dat die Here elke oggend nog betroubaar is (sê vers 22).

Ja, baie dinge het verander. Hy is baie dinge kwyt: al die heilige plekke, ampte, monumente, tekste van sy volk. Al wat hy oor het, is God self. God is al wat uit die ruïnes van Jerusalem met hom saamgekom het.


Uiteindelik is dit hierdie waarheid wat sy uitkyk verander, wat hom weer op God laat hoop. Waarom? Omdat sy hele geskiedenis hom daaraan herinner dat God in sy diepste aard getrou is. Betroubaarheid en medelye is die karakter van die Here.

En daarom besef die skrywer: die Here wat nog altyd barmhartig was, wat nog altyd genadig was en wat nog altyd weer vergifnis en bevryding geskenk het, is vandag nog dieselfde Here. Ja, daar is dele van die Here wat hy nie verstaan nie. Daar is ’n kant van die Here wat hy beleef het wat vir hom vreemd en onverstaanbaar is en wat hy in sy menslikheid nie kan begryp nie.

Maar daar is tog ’n groot deel van die Here wat hy wel verstaan. En dit is God se medelye met mense wat swaarkry. Miskien moet hy nie so hard kla nie. Miskien moet hy weer geduldig op die ontferming van die Here, die medelye van God, wag.


Dit is hoekom Klaagliedere 3 vir my so ’n kosbare teks is. Dit is een van my anker-tekste. “Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom.” Nee, die wêreld sal waarskynlik tot die wederkoms van die Here Jesus nooit weer “heel” wees nie. Tot en met die wederkoms, sal die mensdom nie meer en meer in die Here glo, maar na alle waarskynlik minder en minder.

En soos die mensdom al verder van God af wegstap sal die lelikheid en die slegte dinge toeneem. Maar die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom. Deur sy liefde het ons (nog) nie vergaan nie … En daarom weet ek is daar geen einde aan sy ontferming nie.


Hiermee troos ek my amigdala. Met hierdie woorde kalmeer ek my kognitiewe vooroordeel, daardie geneigdheid om dadelik die negatiewe dinge raak te sien en daarop te fokus. Met hierdie wete kondisioneer my ander kognitiewe vooroordeel, sodat ek eerder die goedheid van die Here kan raaksien as om die heel tyd bevestiging in my negatiewe geneigdheid te kry.

Al verander die wêreld nie, al raak dinge nie beter nie, bly ek op die Here hoop. Hy is my anker, my troos en my inspirasie in hierdie lewe.

* * *

Chris du Preez
Selfoon: 082 551 1685
Epos op selfoon: chris2dupreez@icloud.com

Tuesday, 1 October 2019

29 September 2019, Koninkrykstyd 16


Psalm 91


Pyn is ’n ontsettende ding. Dit is seer, verskriklik seer. Só seer dat dit alles oorheers. Dat jy dit later kan proe, en jou selfs verbeel: jy ruik dit. Dit mergel ’n mens uit. Dit maak ’n mens jou liggaam haat. Partykeer maak pyn ’n mens so desperaat dat jy wens jy kan dit self uitsny, stukke uit jou lyf wegruk, net om daarvan weg te kom.

Pyn maak ’n mens moeg. Dit maak jou wanhopig. Jy smeek: “O Here, neem dit net weg!” Jy onderhandel: “Here, gee my net weer ’n kans. Ek sal gesondheid nooit weer as vanselfsprekend aanvaar nie. Here, maak my reg, vat dit tog net weg.” Pyn abba vrees op sy rug. Vrees en angs. Angs en twyfel. Twyfel en eensaamheid.


Maar pyn is nie altyd net in die lyf nie. Pyn kuier ook in die gedagtes. Pyn is in die kop en die hart ook, in die emosies en die siel. En dáár is dit nie minder vernietigend as in die lyf nie. Sy maats is mos dáár ook – vrees, angs, twyfel.

Tot jy later uitroep: “Here, ek kan hierdie swaar nie meer dra nie!” Here, my kind! Here, my huwelik! O God, my finansies! O Here, my lewe maak nie meer sin nie! Pyn van die liggaam, pyn van die hart. Nee, pyn is ’n ontsettende ding.


Mense is gou met raad. Hulle bedoel dit so goed. Hulle wil nie hê jy moet worstel nie. Hulle wil graag vir jou troos, vir jou help om moed te hou te midde van al hierdie dinge. En jy glimlag maar en sê “dankie”.

Maar niks verander regtig nie – die pyn bly. Die mense gaan weer weg, maar die pyn bly. Partykeer wil jy gil: “Hou net op!” “Bly net stil! Jy weet nie regtig hoe ek voel nie. Jý het nog jou man. Met jóú kind gaan dit darem nog goed. Jy sien darem nog ’n môre en ’n oormôre. En jou lewe lyk oraait – jy’s gesond. Jy weet nie die helfte van die storie van my pyn nie.”


En die Here? Sjoe. Dis ’n ander eina dáárdie. Want pyn bring ook geestelike storms. Of dit nou in die liggaam of in die gedagtes seer is, pyn laat ’n mens oor die Here wonder.

Dit laat jou vra: “Hoekom?” “Hoekom dan, Here?” “Here, ek verstaan nie waarom dit gebeur nie. Here, ek verstaan nie hoekom U dit toelaat nie. Waarom U dit nie net regmaak nie, Here. Here …?”


Laat my asseblief toe om jou aan vyf dinge te herinner. Nee, ek ken ook nie heeltemal al jou omstandighede nie. En nee, ek kan my ook nie regtig indink presies hoe jy voel en presies waardeur jy alles gaan nie.

Maar as jy vanoggend pyn het, wil ek so graag vyf dinge vir jou sê. Nie omdat ek dink ek kan jou pyn wegvat nie – dit sou baie arrogant wees. Ook nie omdat ek dink dat die lees van ’n psalm sommer al jou seer in slag sal regmaak nie.

Maar miskien kan een van die vyf beloftes van Psalm 91 vir jou iets soos ’n reddingboei wees. ’n Plek waar jy – al is dit net vir ’n rukkie lank – kan vashou, en asemskep, en rus.


Psalm 91 belowe aan jou ’n stuk bystand. Die Here sê: “In sy nood sal Ek by hom wees” (vers 15). Moenie dat die bekendheid van hierdie woorde jou flous nie. Dit is ’n ongelooflike belofte wat dit Here hier maak.

Die Here sê dat ek nêrens alleen beweeg nie. Ek is nêrens aan my eie lot oorgelaat nie. Nie as dit goed gaan en ek selfs sou dink daar is niks wat my pla nie, maar definitief ook nie wanneer dit swaar gaan en ek deur een of ander krisis bedreig word nie.

Nie eers in my reis deur die onkologiesaal is ek op my eie nie. Nie eers wanneer ek nog ’n nag in spanning oor my huis of my kind of my finansies wakker lê, is ek alleen nie. Natuurlik is daar baie dinge wat ons nie verstaan nie. Ons verstaan nie hoekom ons siek word nie.

En ons verstaan nie altyd hoekom die Here dit nie sommer by voorbaat keer nie. Ons verstaan nie hoekom die lewe party dae sulke skerp opdraendes maak nie. Maar die een ding (te midde van die krisis) waaraan ons nooit hoef te twyfel nie, is dat die Here by ons is nie.

Hy is by ons in ons krisisse, ons siekwees, ons worstelinge, ons hartsere, ons tye van ontnugtering en ontreddering. Hy is so naby aan ons as wat niks anders ooit kan wees nie. Selfs nader nog as wat ons ooit kan dink om te begryp. Ons het Hom elke oomblik by ons.

En op ’n manier – en dit is een van daardie dinge wat ek ook nie verstaan hoe dit werk nie – maak dit ’n ongelooflike verskil aan dít wat ek ervaar en beleef. Dat ek weet: die Here is by my, ek is nie alleen nie. Op ’n manier werk dit vir my.


Die tweede belofte wat Psalm 91 gee, is net so aangrypend. Die Here sê dat Hy ons bewaar (vers 3 & 4). Dadelik wil ’n mens sê: “As God ons dan bewaar soos Hy belowe, hoekom gaan dit dan met my soos dit met my gaan?” “Hoekom is ek dan siek? Hoekom verskeur probleme elke dag my moed tot fyn repies tissues wat die winde van worsteling rondom my laat dwarrel?”

Maar die Here bewaar ons beslis. Selfs in ons donkerste oomblikke bewaar Hy ons steeds. Nee, ons verstaan dikwels nie hoekom die Here sekere dinge toelaat nie, maar die Bybel verseker ons dat selfs in ons donkerste, heel broosste oomblikke, selfs in die laaste oomblikke van ons aardse lewe, is ons op ’n wonderlike wyse nog steeds in die beskermende en bewarende hand van die Here. Nee, ek weet nie hoe dit werk nie, maar dit is so. Dit is regtig só.


Psalm 91 se derde belofte sluit hierby aan. Dit sê: die Here belowe aan ons sy redding. Vers 14 bevestig dat die Here húlle red wat Hom liefhet. Die Here tel ons op, lig ons uit – ja, op ’n manier dra Hy ons bo-oor die dinge wat ons lewens met mag aftrek grond toe.

Hy tel ons op, Hy sit ons voete uiteindelik ook weer anderkant die seer en die worsteling neer. Soms tel Hy ons so hoog op dat Hy ons aan die anderkant van die gordyn van die lewe neersit. Maar dis ook reg, nie waar nie? Want dit is mos deel van sy redding van ons lewens. Hy gee ons mos die hemel, die ewige lewe.


Die vierde belofte van die Psalm 91 is dat die Here na ons gebede luister (vers 15). Ons raak soms so opstandig en bakleierig, verbitterd en ongelukkig, want dit voel vir ons asof die Here nie hoor wanneer ons bid nie.

Maar die Here sê: “Ek hoor, en Ek doen wat vir jou die beste is, my kind.” Nee, ons praat en ons bid nie maar verniet nie. Ons prewel nie sommer maar net woorde in die wind nie. Ons gesels met ons Vader. En Hy hoor. En Hy doen wat Hy weet reg en goed is.


Die laaste belofte wat ek graag uit hierdie psalm met jou wil deel, is vir my persoonlik ’n wonderlike troos. Die Here sê in die 15de vers dat Hy “hom (die mens) in sy eer herstel”. Wat beteken dit? Dit beteken: die Here doen groot dinge in en met ons lewens.

Die Here maak gewone mense se gewone lewens ongelooflik spesiaal. Hy maak ons glorieryk, verheerlikend, stralend. Wanneer Hy só by ons is soos Hy is, wanneer Hy ons optel en beskerm en red, dan gee Hy aan ons ’n nuwe status, ’n nuwe plek, ’n nuwe toekoms – ja, uiteindelik die ewige lewe.

Hy gee aan ons ’n glorie wat ons nooit op ons eie kan kry nie. Hy maak ons uiteindelik dít wat Hy met sy skeppingswerk bedoel het ons sal wees: volmaak.


En só span die Here sy veiligheidsnet onder ons lewens. Soos die sweefstof-artis asemrowende toertjies in die lug kan doen, met die sekerheid van die vang van ’n veiligheidsnet (sou dit nodig wees), só span die Here sy veiligheidsnet onder ons.

Sodat wanneer ons val – aan die broosheid van ons liggame, aan die breekbaarheid van ons harte en ons geloof – dan val ons in sy arms in, in sy beskerming in, in sy troos en bystand en genade en krag en hoop in.

En val ons in sy triomf in, in sy heerlikheid in, in die ewige lewe in. Dit ís ons enigste troos, soos die Heidelbergse Kategismus ook sê: dat ons in lewe en dood aan ons getroue Verlosser, Jesus Christus, behoort.

* * *

Chris du Preez
Selfoon: 082 551 1685
Epos op selfoon: chris2dupreez@icloud.com

Thursday, 26 September 2019

22 September 2019, Koninkrykstyd 15


Lukas 16:1-13


Lukas 16:1-13 is ’n teksgedeelte wat ’n mens baie nederig maak. Nederig nie omdat dit jou so dadelik en so duidelik aanspreek nie, maar eerder nederig omdat ’n mens dit nie verstaan nie. Dit moet beslis die mees ingewikkelde gelykenis van Jesus wees wat in die Bybel opgeneem is.

Die Lutheraan, David Lose, sê ’n mens moet nie skaam wees om te erken dat jy hierdie teks nie heeltemal verstaan nie. Die Australiër, William Loader, weer skryf dat daar seker ’n honderd verskillende verklarings en uitlegte al vir hierdie teks gegee is.

Dit klink ook vir my dat ’n mens maklik in die slaggat kan trap om die teks te wil manipuleer om iets te sê wat jy wil hê dit moet sê. Met ander woorde, dat ’n mens in die teks dinge kan raaklees wat eintlik nie daar staan nie. Glo my gerus as ek bely: vir my is hierdie teks erger as ’n kraaines.


Daar is by Bybeluitleggers die vermoede dat Jesus by ’n bekende storie of nuusgebeure van daardie tyd aangehaak het en toe dít gebruik het om sy gelykenis rondom te bou. Dalk was dit iets soos ons eie Zondo-kommissie wat allerhande skelmstreke en spandabelrigheid ontbloot.

Waarskynlik sou die mense rondom die Here, sy dissipels, asook die Fariseërs wat blykbaar graag na Hom kom luister het, die gelykenis beter verstaan het. Wat dit half nog moeiliker maak, is dat iemand na die tyd – moontlik Lukas as redakteur, of dalk die mense wat vóór Lukas met die oorvertel van die teks betrokke was – drie verdere stellinge tot die gelykenis gaan byvoeg het, asof dit vir húlle die gelykenis meer verstaanbaar gemaak het.

Daardie “byvoegings” kry ons is vers 9 (gebruik mammon om vir julle vriende te maak); vers 10-12 (wees in die klein dingetjies betroubaar); en vers 13 (jy kan nie God én Mammon dien nie). Of dit ons regtig help, is ek nie seker.

Waaroor daar wel nie twyfel is nie, is dat geld een van die hoofonderwerpe van hierdie gelykenis vorm. ’n Tweede ding waaroor daar redelike instemmigheid by kenners is, is dat daar iets is wat Jesus reken sy volgelinge by ongelowiges kan leer. As dit jou sal pas , sal ek graag dat ons vir ’n rukkie rondom hierdie twee temas kuier.


Die Here Jesus het baie oor geld en die impak daarvan op ons lewens gepraat. Iemand wat dit getel het, beweer dat 15% van sy prediking oor geld en die hantering daarvan gehandel het. Daar word gesê dat dit die enkele onderwerp is waaroor Jesus die meeste gepraat het.

Iemand anders weer sê dat daar meer as 2,300 verse in die Bybel is waarin geld, besittings of welvaart genoem word. Die rede hoekom geld so ’n belangrike rol in Jesus se woorde (en die res van die Bybel) speel, is doodgewoon omdat geld een van die Satan se magtigste wapens is waarmee hy gelowiges van God af wegtrek.

Die grootste skeurings tussen gelowiges en hulle Here gebeur dikwels juis in mense se beursies.

Geld is nie opsigself boos nie. Maar dít wat die bose in ons gedagtes met geld regkry, is waar die boosheid ontkiem. Geld werk dan soos ’n groot magneet wat die heel tyd ’n trekkrag op ons uitoefen.

Of ons nou skatryk of brandarm is, geld kan in elke situasie van die lewe ons struikelblok wees. Geld krap sowel ryk as arm mense se verhouding met die Here om. Ek hoop jy hoor dit mooi: geld is die bose se magtigste wapen in belemmering van gelowiges se verhouding met God.


Juis daarom moet gelowiges se kop en denke oor geld, besittings, welvaart en al die ander dinge wat geld aanraak, baie mooi opgepas word. Ongelukkig is die situasie so sleg, dat ons waarskynlik eerder moet sê dat by die meeste van ons daar ’n beursie-bekering ook moet plaasvind.

Verstaan my mooi: hierdie is nie ’n oproep tot ’n groter dankoffer waarmee ek besig is nie. Ek probeer jou nie oortuig om jou dankoffer met ’n paar rand te verhoog nie.

Ek probeer eerder vir jou sê: jy moet baie seker maak dat jou denke oor geld nie besig is om jou van die Here af weg te trek nie.

Weer eens, of jy welgesteld of brandarm is; en of jy doodgemiddeld is en elke maand maar met ’n begroting moet worstel, maak nie saak nie. Jy moet baie versigtig wees. Jy moet asseblief gaan seker maak of jou bekering ook jou denke oor geld geraak het.

Want jou beursie, of dan jou denke oor geld, jou benadering tot geld, kan jou van die Here vervreem – dalk sonder dat jy dit besef. Hoekom? Geld plaas jouself in die middel van jou lewe.


Geld laat ’n mens selfsugtig dink. En die Here nogal het nogal ’n sterk mening oor mense wat self in die middel van hul eie lewens staan. Hy het ’n afkeer aan selfsugtigheid. Moet nie toelaat dat die bose deur geld (of die gebrek daaraan) ’n skeuring tussen jou en jou Here veroorsaak nie. Pas jou kop op. Bekeer jou beursie.


Miskien is dit ’n goeie plek om dan nou oor die tweede oorhoofse tema van Jesus se gelykenis te gesels. Dit lyk vir Bybelkenners asof Jesus hierdie gelykenis gebruik om vir sy dissipels en volgelinge te sê: daar is iets julle by ongelowige mense kan leer; daar is iets waarin hulle vir julle voor is.

En dit is die fokus waarmee hulle op geldmaak ingestel is. Dit is passie waarmee mense oor geld dink. Ons kan dit selfs noem die smagting na geld en besittings, daardie mag, energie en dryfkrag wat mense daagliks meesleur. Daardie passie moet ons by die ongelowiges gaan leer.


Neem as voorbeeld hierdie onverantwoordelike en skelm bestuurder van die gelykenis. Die passie waarmee hy homself uit die knyp probeer rangeer. Die skielike energie van toespitsing op sy werk wat hy verwaarloos het. Die vindingrykheid wat hy aanwend in die regstel van die krisis. Leer by hom.

En leer selfs ook by sy werkgewer. Dié man was ook nie juis ’n baie eerlike karakter nie. Wanneer jy tussen die lyne lees en so ’n bietjie in die historiese agtergrond van die Bybelse tyd gaan delf, kom jy agter dat hy die wette van Moses met uiters onbillike rentekoerse blatant oortree het.


Gaan leer by daardie soort mense van passie, sê die Here Jesus. Gaan kyk na die “single-mindedness” waarmee mense op geld ingestel is, hoe hard hulle werk om geld en besittings bymekaar te maak, watter opofferings hulle bring om van hul besighede ’n sukses te maak, watter energie en tyd hulle aan hierdie primêre fokus in hulle lewens spandeer … en volg hulle voorbeeld na.

Nee, nie om geld te maak nie, maar om die koninkryk van God te dien. Dit is moontlik wat Jesus met die woorde van vers 8 se tweede helfte bedoel het: “Die mense van hierdie wêreld tree onder mekaar slimmer op as die mense van die lig.”

Daardie energie wat ons so maklik gebruik om geld te verdien en te vermeerder, gebruik dit vir ’n slag om God mee te dien. Daardie passie wat mense dryf om hard te werk, om vindingryk te werk, verplaas dit ’n slag na jou diens aan die Here. Daardie “single-mindedness” waarmee jy na geld en sukses smag, smag vir ’n slag na die wil van die Here.


Dit is ’n radikale ding hierdie. Hier gaan dit nie oor ’n kleinerige aanpassinkie in jou dankoffer of ’n beter bydrae vir die basaar nie. Met hierdie gelykenis kom keer die Here Jesus ons totale denke oor geld en die lewe op sy kop.

Dit maak my nogal bang. Ek weet nie hoeveel gelowiges regtig hiervoor kans sien nie. Ek weet ook of ekself dit elke dag leef nie. Maar miskien is jý iemand wie se kop die Here kan draai. Miskien is hierdie juis die oomblik waarin die Here jou kop oor geld gaan omdraai.

Beter nog: miskien is hierdie juis die oomblik waarin die Here jou kop finaal vir sy koninkryk gaan draai. ’n Oomblik waarin Hy vir jou gaan help om die meesleurende passie vir geld om te skakel in ’n meesleurende passie vir sy wil, sy koninkryk en vir jou roeping in hierdie wêreld.

Hoe wonderlik sal dít nie wees nie!

* * *

Chris du Preez
Selfoon: 082 551 1685
Epos op selfoon: chris2dupreez@icloud.com

Monday, 23 September 2019

Saterdagaand vermaak by die Plaasbasaar, 12 Oktober 2019


1925Band bestaan uit die broers Reno, Jeff en David-Lee Gericke. Hulle het ’n passie vir akoestieke volksmusiek in Afrikaans en Engels. Die groep het in Februarie 2011 begin.
Hulle debuut album Horizon is in 2014 vrygestel met agt oorpronklike snitte, insluitend treffers soos “Gedig Op Jou Arm”, “Servette” and “Out Of My Hands” wat oor die radio gespeel is.

In 2016 skryf 1925Band die tema-lied vir die Afrikaanse film "Eintlik Nogal Baie". Hierdie lied gaan na nommer een in Suid-Afrika. Nadat hulle deel geword het van Storm Rekordz, word hulle tweede album in Augustus 2017 vrygestel. Sedertdien toer hulle regdeur Suid-Afrika en het hulle ’n nuwe album beplan vir Mei 2018. 1925Band doen ’n verskeidenheid musiek – oorspronklike komposisies en ou gunstelinge van die Bee Gees en ander kunstenaars.

1925Band consist of brothers Reno, Jeff and David-Lee Gericke. They have a passion for acoustic folk music in English and Afrikaans music. The band started in February 2011.
Their debut album Horizon, was launched in 2014 with eight original tracks, including hits like “Gedig Op Jou Arm”, “Servette” and “Out Of My Hands” which have all enjoyed radio play.

In 2016, the 1925Band composed the theme song for the Afrikaans Movie "Eintlik Nogal Baie". The song went to number one on South African charts. Having signed with Storm Rekordz, their second album was released in August 2017. Since then the band has toured throughout South Africa and they were planning a new album in May 2018. 1925Band sings a variety of songs – original compositions and old favourites from the Bee Gees and other artists.

Gaan loer gerus hier na hulle nommer een treffer, "Eintlik nogal baie":

Thursday, 19 September 2019

15 September 2019, Koninkrykstyd 14


Lukas 15:1-10


Die drie gelykenisse wat Jesus in Lukas 15 vertel (waarvan ons vandag net die eerste twee lees) handel uiteindelik oor dieselfde saak. Die verhaal van die skaap wat wegraak, die muntstuk wat verloor word en die seun wat van sy pa se huis af weggaan, wil al drie vir ons iets wys van die ongelooflike liefde vir mense wat in die Vader se hart leef.

Die Here se liefde is ’n soekende liefde, sê Lukas 15. Dit is ’n liefde wat nié daarmee vrede het dat mense van God af wegdraai nie, maar wat sulke afgedwaaldes en weggelopers altyd bly soek. Sodat hulle na die Here kan terugkom.


In die eerste gelykenis, die gelykenis van die verlore skaap, fokus Jesus se vertelling op die skaap se toestand. Hierdie was ’n skaap in krisis. Vir moderne mense soos ons is dit soms maar moeilik om onsself die wêreld van destyds in te dink.

Ons is gewoond aan plase met omheinings en hekke, maar in die Palestina van destyds was daar nie so iets nie. Elkeen wat skape of ander vee gehad het, moes dit eenvoudig of self oppas, of ’n veewagter aanstel om heeldag by die skape te bly terwyl hulle in die veld wei.

Teen die aand se kant sou so ’n skaapwagter dan moes sorg dat al die skape veilig in die kraal kom. Sou daar ’n skaap van die trop af wegdwaal, was dit ’n groot krisis. Die wêreld was destyds vol ondiere en gevaar. ’n Afgedwaalde skaap was ’n maklike prooi vir wilde diere, of kon dalk êrens by ’n krans afval en iets breek.


’n Afgedwaalde skaap was verlore. Behalwe natuurlik as die herder só ’n weggeraakte skaap sou gaan soek. Vir ’n afgedwaalde skaap was dit die enigste hoop op redding: dat sy herder nie maar tevrede sou wees met die nege-en-negentig ander skape wat hy darem nog by hom het nie, maar dat hy daardie weggeraakte een sal gaan soek. Doen hy dit nie, sou hierdie skaap dit nie maak nie … en was sy lewe daardie selfde nag nog verby.


Met hierdie gelykenis wou Jesus ’n belangrike boodskap aan die Fariseërs en skrifgeleerdes van destyds bring. Hulle wat so bitter ontsteld was omdat Jesus met mense wat húlle as sondaars (en daarom buite die huisgesin van God) gereken het, gesels en verkeer het.

Jesus wou die Fariseërs en skrifgeleerdes oortuig dat dit juis is hoe God is: God gaan soek mense wat van Hom af wegedwaal het. Die Here maak nie maar net daarmee vrede as iemand sy rug op Hom draai nie.

Hy weet immers dat iemand wat probeer om sy lewe sonder Hom te leef, in lewensgevaar verkeer. Sulke mense se nood, hul toestand van verlorendheid, raak die Here se hart. Hy sien nie kans om afgedwaalde mense aan hulle eie lot oor te laat nie. Die Here bly soek en roep na hulle wat weggeraak het, hulle wat ver van Hom af staan.


Die feit dat die Here juis na afgedwaaldes gaan soek, is natuurlik een van die wonderlikste sekuriteite wat ’n gelowige kan hê. As die herder in die gelykenis bereid was om die verlore skaap op te offer ter wille van die nege-en-negentig wat darem nog by hom was, moes elkeen van daardie nege-en-negentig skape eintlik baie onveilig gevoel het.

Dan kon hulle mos weet dat die dag as een van húlle sou wegdwaal, ook hy nie gesoek sou word nie. Vir elke gelowige bied hierdie gelykenis die wonderlike troos dat sou daar dalk ’n dag kom dat ’n mens om een of ander rede van die Here af wegdwaal, die Here dit nie sommer maar net sal aanvaar nie.

Hy sal sy afgedwaaldes bly soek. Want die Here weet: sonder Hom is ons in die nood, is ons verlore. En Hy sien nie kans om ons verlore te laat gaan nie.


In die tweede gelykenis, van die vrou wat haar muntstuk verloor het, is die boodskap dieselfde: die Here se liefde is ’n soekende liefde, wat nie rus voordat afgedwaaldes gevind is nie. In hierdie tweede gelykenis is die fokus van Jesus se vertelling egter nie op die nood van muntstuk nie, maar eerder op dié van die vrou.


Bybeluiteleggers sê dat Jesus in sy vertelling ’n silwermuntstuk in gedagte gehad het wat tradisioneel deel van ’n vrou se bruidskat uitgemaak het. Vroue het hierdie muntstukke gewoonlik in ’n hooftooisel vasgewerk, iets wat party van hulle nie eers afgehaal het wanneer hulle gaan slaap het nie.

As haar man vir haar regtig ’n groot geskenk wou gee, het hy vir haar nog ’n muntstuk gegee, wat sy dan ook in haar kopdoek vasgewerk het. Hierdie was dikwels ’n vrou se enigste finansiële sekuriteit. Sou haar man sterf, of van haar skei, was dit die enigste geld waarvan sy kon leef.


Met dít in gedagte kan ’n mens nogal verstaan watter nood hierdie vrou moes ervaar het toe sy agterkom dat sy een van haar muntstukke verloor het. Toe sy die lamp aansteek, die huis versigtig uitvee en bly soek het totdat sy die muntstuk opgespoor het, is dit omdat hierdie muntstuk vir haar onvervangbaar is. Sy kon nie daarsonder klaarkom nie.


Hier sien ons vanuit ’n ander hoek weer ’n keer iets van die Here se liefde. Ons is geneig om te dink dat dit net die mens is wat nood ervaar wanneer hy van God af weggedwaal het; en dat die Here Homself dus oor hierdie afgedwaaldes-in-nood ontferm.

Hierdie tweede gelykenis sê egter vir ons dat die Here weggeraaktes ten alle koste opsoek, omdat weggeraaktes vir Hom ’n onbeskryflike verlies is. Só verstommend is die Here se liefde vir mense. Ons afdwaal dompel Hom in ’n verliessituasie.

Natuurlik veroorsaak ons wegdwaal van die Here vir onsself ook ’n groot krisis (om die waarheid te sê: dit is lewensgevaarlik vir ons, want ons kan sonder die Here sterf).

Lukas 15 leer egter vir ons dat dit ook vir die Here ’n verlies is as mense hul rûe op Hom draai. Want dan is sy huisgesin onvolledig. En dit is vir Hom ondraaglik. Die ergste van die sonde is nie dat mense sonder God sterf nie, maar dat God sy kinders kwytraak.


God se opsoekende liefde is ’n ontfermende liefde. Maar dit is ook ’n gebroke liefde, ’n hartseer liefde, ’n liefde wat smag na wederliefde, en wat daarom geen steen onaangeroer laat voordat dit die wederliefde vind nie.

God is ’n Vader, daarom kan Hy die gemis van sy kinders nie verdra nie (HW Rossouw). Juis daarom is daar soveel blydskap elke keer as iemand op die Here se roepstem reageer. Nie net word iemand wat in doodgevaar verkeer, gered nie; die Here se nood oor daardie afgedwaalde word ook tot rus gebring.

Ek dink ons het nie naastenby ’n idee het van hoe lief die Here vir ons is nie. Hy het ons meer lief as wat ons moontlik kan besef. Dit gee groot sekuriteit aan ’n mens, groot troos en ’n gevoel van heerlike veiligheid.

Om te mag weet: nie net is die Here vir my kosbaar en wil ek nie sonder Hom leef nie; maar vir Hom is ek ook kosbaar … en Hy sien nie kans om my maar net te laat gaan nie.


Daar is ’n verdere belangrike boodskap in hierdie gelykenisse, waarvan ons beslis ook moet kennis neem. En dit is dat dieselfde dringende soeke na afgedwaaldes wat die Here ervaar, ook in sy kinders se lewens ’n werklikheid moet wees.

As ons dan weet hoe groot die Here se nood is oor elkeen wat nog weg van Hom af leef, sal ons ook nie daarmee vrede kan maak nie. Dan sal ons ook wil uitgaan en saam soek.

Indien ek iets van die Vader se hart verstaan, van sy brandende liefde vir mense, sal ek met ander oë kyk na die mense rondom my, dié wat elke dag my lewenspad kruis. Ek sal by die Here leer om hulle met sy oë raak te sien. Want Hy is lief vir mense … en Hy wil hulle red.

* * *
Chris du Preez
Selfoon: 082 551 1685
Epos op selfoon: chris2dupreez@icloud.com